‘n memory…24 Mei 2011

‘n memory…24 Mei 2011

Dit is hoe dit is met keuses…jy besluit en gaan saam.

Oor die afstand van die parkeerarea is beweging en dit is nogal vreemd vir ‘n vroeë Saterdag-oggend by dié plek. Ons bondel die ‘props’ onder ons arms in en daar kom die mooie kind aangeloop met ‘n moewiese tas op wieletjies. Hulle vra ons nie toegangsgeld nie. “Vandag is gratis” sê sy. En toe ons inloop toe verstaan ek hoekom ons nie aandag trek nie. Klomp mense stel stalletjies op vir ‘n oggendmark. Miernes. So ons loop ongemerk by almal verby, wielietjie-tas, kamerasak, ‘tulle’ en kandelaar. Terwyl hulle die perfekte agtergrond soek dwaal ek af…

Die belangrike vrou sê oor die mikrofoon dat hierdie dag gaan oor ‘bio-diversity’. Ek sien ‘n groep vroue onder ‘n boom met koek en sap en dogtertjies van min of meer dieselfde ouderdom, aangetrek in pienk. Ek dog dis ‘n Barbie tema maar sien toe nee – dis Hannah Montana. En hulle is lawaaierig! Kom af op ‘n bejaarde man met die mooiste voëls in hout hokkies. Hy is omring deur klein kindertjies wat sag aan die vere van die uiltjie raak. Daar is dogtertjies met krone op hul kop, hulle verteenwoordig ‘skoonheid’ en daar daag die kunstenaars op – musiek! Ek dwaal terug na my kind toe en tref die omgekeerde tas aan met leë sakke en ge-ordende chaos. Ek kan kyk na almal terwyl ek op die houtbankie sit, langs die waterval en by die goed.

Die prentjie is ‘surreal’ – voor my staan die mooi kind, uitgevat in die vreemde klere, strepe op haar gesig en kandelaar in die hand. Ek wil bly kyk, maar hulle verdwyn in ‘n blare-sprokieswêreld in. Ek sien net my kind se hande met die kamera en hoe sy soms gaan lê in die modder. Sy is besig en onbewus van die ‘commotion’ rondom haar.

Die pienk dogtertjies hardloop om en steek vas, verkyk hulle aan die feëtjie in die bos. Loop saggies nader, trek blare weg en fluister agter hulle hande. Hardloop af in die paadjie, probeer nader kom, stop skielik – keer die kleintjies af met die hande. Fluister…rek hulle lyfies, buig vorentoe om beter te kan sien. Fluister. Hardloop terug na mamma, fluister iets in haar oor. Mamma, effe geirriteerd stuur haar weg, sy bondel die groep saam, sleep nog ‘n paar pienk dogtertjies saam. “Glo my! Kom kyk, daar is ‘n regte feëtjie in die bos!” Drie bruide daag op by die waterval. Iets maak nie sin nie, die rokke pas nie mooi nie. Die fotograaf soek na die regte hoek, keep haar mond in ‘n plooi – kyk in die verbygaan na my kind tussen die blare en marsjeer die drie bruide teen die paadjie op. Die spoed waarteen hulle loop laat die spierwit rokke krampagtig bondel. ‘n Mongooltjie sing-huppel reg by my verby, kyk verdwaas na die tas by my voete, klere en skoene deurmekaar. Steek vas en neem terstond ‘n foto. Toe draai hy na die drie bruide maar is te laat vir ‘n foto. Al singende neem hy die waterval af en roep uit… “yes”!..”yes”!…

Charlotte 2011

Hy sien my kind en sy mond val oop. Hy los die kamera bonsend teen sy bors en staar na die lewendige feëtjie in die bos. Hy kyk met soveel verwondering dat ek myself moet vashou om nie ook op te spring om te gaan kyk nie. Ek wil kan sien wat hulle almal sien. Ek hoor my kind se stem, hoe sy haar prentjie skep. Sien hoe sy haar broekspype oprol om makliker te beweeg.

Ek gryp die oomblik en drentel nader. Kyk op en sien die mooie kind daar in die bos. En net daar in my gedagte en in my hart kom sit ‘n beeld wat ek altyd by my wil hou. Ek skuif weg net toe die drie bruide op die paadjie terugloop. Ek sien hoe enetjie vassteek, stadig vorentoe buig en stip na die prentjie kyk. Die ander enetjie draai ook om en kyk. Toe sien ek hoe haar hand selfbewus oor haar magie vryf, sy vroetel met die toutjie wat oor haar agterlyf trek en selfbewus die hare agter haar ore indruk. Toe praat die twee bruide agter ‘n hand met mekaar en wys skalks na my kind. Toe ek weer sien toe probeer die Mongooltjie ‘n foto neem van die ‘odd’ drie bruide in die bos, maar daar is nie kans nie want hul eie fotograaf bondel die spannetjie dringend verby.

Toe ek na die foto’s kyk toe verstaan ek. Toe sien ek wat almal kon sien en toe spoel die woorde weg. Iewers êrens in die bos…daar leef sy! Die feëtjie van ons drome.

En tussen al die realiteit van –‘bio..di..versiteit’- kom ons almal tot stilstand vir iets moois! Choice!

Ek is so bly ek het nie omgedraai en ingelê nie…

liefde ma.

Fotos: Charlotte Borstlap.

One response to “‘n memory…24 Mei 2011”

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: