dis ‘n proses

Ek weet nie hoe om die woorde te vind om hierdie blog te skryf nie. Ek het oor baie jare geleer om stresvolle situasies te hanteer. In my ingewande lê daar nie meer ‘n maagseer nie, daar lê ‘n boek; en tussen die blaaie lê die stories van my lewe.

Toe ons in Desember 2018 begin het met toetse vir Charlotte se nieroorplanting het ek stilweg besluit om myself van woorde te ontneem. ‘n Selfopgelegde embargo wat vandag in stukke gebreek het.

Ek moes hom vandag sien sodat hy sy sielkundige verslag kan voltooi wat voorgelê moet word aan die paneel. Hy is vir ons gegee in 2006 toe Charlotte gediagnoseer is, hy loop die pad saam met ons al vir dertien jaar. Hy ken my gesin, hy ken my.

Dis as gevolg van hom wat ek hier sit en skryf. Want, sê hy, as al my angs, pyn, vrees, blydskap, teleurstelling, ontnugtering, alleenheid, onmag en geloof hier uitgerol word dan gaan ek okay wees na die oorplanting.

So, hier gaan ek my storie oopvou soos ‘n stukkie papier…

As mens by die Transplant Unit inloop is jy bang, onseker, opgewonde en braaf.

Die Suster is ‘n meester. Sy is reguit en eerlik. Sy draai geen doekies om nie. Sy manage expectations. Toe ek die eerste keer my arm uitrol vir bloeddruk en bloedtoetse en voor ‘n kamer vol mense op die skaal klim het sy vir my gesê wees rustig, dis ‘n proses.

Ek het gedink ek weet wat dit beteken. Dis ‘n gewone transaksie van vraag en aanbod. Charlotte kort ‘n nier, ek is bereid om te skenk… probleem opgelos.

Ek het onderneem om eerlik te wees. So, ek gaan weer probeer…

As mens by die Transplant Unit inloop is jy stupid en arrogant.

En net om myself weer te herhinner, hier is ‘n behoorlike definisie van die woord proses:

process: a series of actions or steps taken in order to achieve a particular end.

Dis hoe mens lyk as die uitslae van die eerste toetse kom. Jy bars in trane uit van verligting. My nierfunksie is 94% maar ons weet nog steeds nie of ons ‘n match gaan wees nie.

Daarna volg nog bloedtoetse, alles word getoets en jou gedagtes skarrel rond soos duiwe in ‘n hok. Sê nou maar hulle vind iets?

Daarna volg 24-uur urine opruimingstoetse. Ek mag nie meer as twee liter water inneem nie, maar ek skei 2.6 liter uit. Ek druip die toets! Terwyl ek die toets vir die tweede keer herhaal huil ek sover as wat ek urine meet.

Iewers tussen moedeloos, dors en alleenheid wonder ek of daar ‘n verband is tussen urine en emosies. Ek slaag die tweede toets.

Verdere bloedtoetse. Dan die spesifieke dag waar twee buisies bloed (Charlotte s’n en myne) in ‘n aparte blou bakkie gestuur word na ‘n spesiale laboratorium om te bepaal of ons ‘n match is.

Ek huil 18 Maart 2019 toe ons hoor ons is ‘n match.

Op hierdie punt word ek en Charlotte geskei. Ek moet eers wag, sy moet ‘n proses voltooi wat verseker dat sy ‘n goeie kandidaat is vir ‘n oorplanting. Sy sien haar nefroloog, uroloog, ginekoloog, chirurg (wat ook ‘n gastroskopie doen), sonars en x-strale en voltooi haar sessies by die sielkundige.

Haar saak kom voor die paneel en sy word op die kadawerlys geplaas. Sy mag ‘n nier ontvang. Selfs al val daar nou iets voor wat my ongeskik maak om vir haar te skenk bly sy op die lys saam met al die ander wat wag op ‘n nier.

Ons kry toestemming om voort te gaan met my toetse.

Hierdie is ‘n vrolike dag. Ek is blakend gesond en Charlotte sien my niere op die sonar. Een van hulle behoort aan haar (sy noem haar nier Trixie)

Vir die eerste keer in ‘n lang tyd sien ek hoop in my kind se oë. Ek sien lewe. Ons geloof en wetenskap is in alignment. Ek dink vir ‘n vlietende oomblik daaraan dat dít is hoe ‘n ma moet voel as sy haar surrogaat babatjie in iemand anders se lyf sien. Dis ‘n lewegewende vreugde wat ek nog nooit gesien het nie.

Die Suster bring ons terug aarde toe. My ginekologie toets dui abnormale selle aan en die oorplanting kan nie voortgaan as daar ‘n moontlikheid van kanker is nie. Omdat dit vrou-tot-vrou is, is die risiko groot.

Daar kom ‘n verlatenheid oor ‘n mens as jy hoop proe en dit word jou ontneem. Dis moeilik om te swaai tussen ekstase en vrees.

Maar ons hou vas aan ons geloof. Ons word omring deur soveel mense wat vir ons bid

Ek is geopereer 17 Mei en sterk goed aan.

Ten spyte van die klein terugslag het ek my internis en nefroloog gesien en is gesond verklaar.

Daar is só baie waaroor ek nog kan skryf, sê ek vir hom. Nou doen dit dan, sê hy. Vir jouself, of iemand daar buite wat jou storie moet hoor.

Ek ry huis-toe. Jy hou nie van aandag nie, sê my kop… maar jy hou van gee, sê my hart.

“if you remember anything of me, after i leave this world, remember that i loved even when it was foolish; that i cared, even if it was unwanted; when my body is gone, remember my heart”

 

40 responses to “dis ‘n proses”

  1. Karin says:

    So oop en weerloos in woorde uitgedruk… Soos mens lees ry ek saam met jou die wipplank van die lewe…. Jy mag maar en dankie vir die deel.
    Jy kan nooit vir ander vertel hoe soiets jou raak tensy jy eers self daardeur is nie.

    Liked by 1 person

  2. Ln says:

    Sterkte vir julle. Ons bid Saam julle liefde die Nelle.

    Liked by 1 person

  3. Una says:

    Jy is geopereer, en ek het dit nie geweet nie. My hart is seer daaroor, maar ek glo jy was omring deur omgee mense. Liza, hierdie is omtrent ń alleen pad, vir jou en jou kind, en tog is julle saam. Jou fotos vertel baie.

    Liked by 1 person

  4. Una says:

    Mag ek jou skrywe by my reblog? Ek sal graag wil hê van die ander ouens moet by jou begin lees. Maar sê as jy nie rustig daaroor voel nie.

    Liked by 1 person

  5. Ek het jou hier in blogland kom kry. Dankie dat jy blaaie van jou lewensboek so oopslaan en hierdie reis uitskrywe. Jou reis saam met jou kind, jou liefde is vir my inspirerend. Ek bid vir julle en weet julle sal veilig deur hierdie unieke reis. Seënwense.

    Liked by 1 person

  6. Dankie vir die deel, Liza – jy en jou dogter is so ongelooflik inspirerend dapper!

    Liked by 1 person

  7. Vlindersag says:

    Is dit John Lennon wat gesê het: “Everything will be okay in the end. If its not okay, its not the end.” Baie dankie dat jy jou emosie en jou reis deel. Dis goed vir ons om dit te lees en saam met jou te stap. Sterkte!

    Liked by 1 person

  8. woordnoot says:

    Liewe Liza…ek lees jou raak onder Una se naam. Dankie dat jy dit deel. Ons is so afhanklik om van mekaar se laste te lees om net self moed te hou vir die paadjies wat onsself stap. Mag julle pad vorentoe net getuig van goedheid en guns.

    Liked by 2 people

  9. HesterLeyNel says:

    Jou woorde het my aangegryp – dit gaan oor meer as net ‘n siekte, toetse, operasies – dit gaan oor lewe en liefde, en die verhouding tussen ‘n ma en dogter. Beste wense vir die pad wat nog voorlê – dit kom met liefde van nog ‘n ma-en-dogter span.

    Liked by 2 people

  10. Liza dankie dat jy deel. In jou woorde gee jy vir ander hoop aan en wys jy sterkte wat net van bo kan kom. Mag jou woorde ook vrede bring en genesing. Sterkte vir die pad wat oor is…

    Liked by 2 people

  11. Sterkte vir jou en jou dogter op hierdie pad! Dankie vir die deel.

    Liked by 1 person

  12. perdebytjie says:

    So mooi en ontroerend geskryf. Julle loop ‘n moeilike pad, maar jou positiwiteit is ‘n inspirasie. Baie sterkte, Liza.

    Liked by 1 person

  13. Toortsie says:

    Dis GROOT spore wat julle trap. Sterkte.

    Liked by 1 person

  14. lizaborstlap says:

    Dankie Toortsie, as jy mooi kyk sal jy die bewerige buitelyne van daardie voetspore sien. Maar ons trap en ons trap vas!

    Like

  15. lizamroux says:

    Sjoe. Dis so mooi geskryf. Ek kom loer hier in vanaf Una se blad. So bly sy het gedeel.

    Liked by 1 person

  16. lizamroux says:

    Ek is ook Liza btw. 🙂

    Liked by 1 person

  17. seegogga says:

    Sjoe, wat n reis! Jy beskryf dit so goed. My niggie het so 2jr gelede haar nier vir haar man geskenk. Hulle was albei vir n hele ruk maar taamlik siek daarna. Jy gee my n idee van die reuse stap wat julle almal moes tree om anderkant uit te kom. Ek haal my hoed vir julle af.

    Liked by 1 person

    • lizaborstlap says:

      Dankie seegogga, ek dink dit sal ‘n storie op sy eie wees… die herstel proses. En die feit dat Charlotte se hele lewe ook gaan anders wees post transplant. Die dissipline, die medikasie en ander aanpassings. Maar ek weet die Here gee grace in die oomblik, ons weet nog nie heeltemal wat wag nie en ek wil nie weer stupid en arrogant wees nie!

      Liked by 1 person

  18. dromer777 says:

    Wonderlik. Ek is met net een nier gebore. Gelukkig is hy blakend gesond. Maar ek sal nooit so iets wonderliks vir iemand kan doen nie. Sterkte vir julle

    Liked by 1 person

    • lizaborstlap says:

      Jy is die tweede mens wat prontuit vir my sê hulle sal nie so iets kan doen nie, ek bewonder jou eerlikheid.
      Ons het onlangs in die Transplant Unit gesit terwyl ‘n pa getoets is om vir sy seuntjie te skenk. Toe die suster hom vra of hy enige vrae het, was sy eerste vraag…”How long after the transplant will I be able to donate blood again?” Charlotte het haar kop geskud en gesê, “ma, julle is ‘n spesie op julle eie.”
      Mens weet nie waartoe jy in staat is voordat jy nie met realiteit gekonfronteer word nie. Ek wou nog altyd ‘n skenker wees, ek het nie gedink dit sal vir my eie kind wees nie. Maar ek het ook die nefroloog gevra of hulle nie ‘n stukkie lewer ook wil vat terwyl hulle my oopmaak nie. Sy het nee gesê…

      Like

      • dromer777 says:

        Wat ek eintlik bedoel is dat ek nooit so iets sal kan doen omdat ek net 1 nier het maar vir my geliefdes beslis. Hou ons asb op hoogte en sterkte vir alles wat voorlê.

        Liked by 1 person

  19. Annette Croeser says:

    Sjoe Liza…. Jy kan darem woorde raakvat.
    Dalk sal ek ook eendag iets kan skryf oor my proses…. my journey van rou. Dis sulke swaar prosesse maar ek’s nie jammer oor die groei wat dit meegebring het nie. Eks ‘n ander mens as 5 jaar terug en ek is diep dankbaar daarvoor.
    Ek stap die pad end-uit saam met julle.

    Liked by 1 person

    • lizaborstlap says:

      Dis gewoonlik die woorde wat my raakvat! Ek hardloop mos maar lekker weg van skryf. Ja, jou journey was nie maklik nie en dit is ‘n storie wat verdien om vertel te word.
      Ek sal graag oor vyf jaar wil terugkyk op hierdie pad en sien dat dit goed was. Ek stuur vir jou baie liefde.

      Like

  20. trommeltjies says:

    Baie dankie vir die deel hiervan, jy skryf dat dit voel of ek saam met julle op hierdie pad reis. Baie sterkte.

    Like

  21. lizaborstlap says:

    Baie dankie trommeltjies!

    Like

Leave a Reply to lizaborstlap Cancel reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: