Ek weet nie hoe om die woorde te vind om hierdie blog te skryf nie. Ek het oor baie jare geleer om stresvolle situasies te hanteer. In my ingewande lê daar nie meer ‘n maagseer nie, daar lê ‘n boek; en tussen die blaaie lê die stories van my lewe.
Toe ons in Desember 2018 begin het met toetse vir Charlotte se nieroorplanting het ek stilweg besluit om myself van woorde te ontneem. ‘n Selfopgelegde embargo wat vandag in stukke gebreek het.
Ek moes hom vandag sien sodat hy sy sielkundige verslag kan voltooi wat voorgelê moet word aan die paneel. Hy is vir ons gegee in 2006 toe Charlotte gediagnoseer is, hy loop die pad saam met ons al vir dertien jaar. Hy ken my gesin, hy ken my.
Dis as gevolg van hom wat ek hier sit en skryf. Want, sê hy, as al my angs, pyn, vrees, blydskap, teleurstelling, ontnugtering, alleenheid, onmag en geloof hier uitgerol word dan gaan ek okay wees na die oorplanting.
So, hier gaan ek my storie oopvou soos ‘n stukkie papier…
As mens by die Transplant Unit inloop is jy bang, onseker, opgewonde en braaf.
Die Suster is ‘n meester. Sy is reguit en eerlik. Sy draai geen doekies om nie. Sy manage expectations. Toe ek die eerste keer my arm uitrol vir bloeddruk en bloedtoetse en voor ‘n kamer vol mense op die skaal klim het sy vir my gesê wees rustig, dis ‘n proses.
Ek het gedink ek weet wat dit beteken. Dis ‘n gewone transaksie van vraag en aanbod. Charlotte kort ‘n nier, ek is bereid om te skenk… probleem opgelos.
Ek het onderneem om eerlik te wees. So, ek gaan weer probeer…
As mens by die Transplant Unit inloop is jy stupid en arrogant.
En net om myself weer te herhinner, hier is ‘n behoorlike definisie van die woord proses:
process: a series of actions or steps taken in order to achieve a particular end.
Dis hoe mens lyk as die uitslae van die eerste toetse kom. Jy bars in trane uit van verligting. My nierfunksie is 94% maar ons weet nog steeds nie of ons ‘n match gaan wees nie.
Daarna volg nog bloedtoetse, alles word getoets en jou gedagtes skarrel rond soos duiwe in ‘n hok. Sê nou maar hulle vind iets?
Daarna volg 24-uur urine opruimingstoetse. Ek mag nie meer as twee liter water inneem nie, maar ek skei 2.6 liter uit. Ek druip die toets! Terwyl ek die toets vir die tweede keer herhaal huil ek sover as wat ek urine meet.
Iewers tussen moedeloos, dors en alleenheid wonder ek of daar ‘n verband is tussen urine en emosies. Ek slaag die tweede toets.
Verdere bloedtoetse. Dan die spesifieke dag waar twee buisies bloed (Charlotte s’n en myne) in ‘n aparte blou bakkie gestuur word na ‘n spesiale laboratorium om te bepaal of ons ‘n match is.
Ek huil 18 Maart 2019 toe ons hoor ons is ‘n match.
Op hierdie punt word ek en Charlotte geskei. Ek moet eers wag, sy moet ‘n proses voltooi wat verseker dat sy ‘n goeie kandidaat is vir ‘n oorplanting. Sy sien haar nefroloog, uroloog, ginekoloog, chirurg (wat ook ‘n gastroskopie doen), sonars en x-strale en voltooi haar sessies by die sielkundige.
Haar saak kom voor die paneel en sy word op die kadawerlys geplaas. Sy mag ‘n nier ontvang. Selfs al val daar nou iets voor wat my ongeskik maak om vir haar te skenk bly sy op die lys saam met al die ander wat wag op ‘n nier.
Ons kry toestemming om voort te gaan met my toetse.
Hierdie is ‘n vrolike dag. Ek is blakend gesond en Charlotte sien my niere op die sonar. Een van hulle behoort aan haar (sy noem haar nier Trixie)
Vir die eerste keer in ‘n lang tyd sien ek hoop in my kind se oë. Ek sien lewe. Ons geloof en wetenskap is in alignment. Ek dink vir ‘n vlietende oomblik daaraan dat dít is hoe ‘n ma moet voel as sy haar surrogaat babatjie in iemand anders se lyf sien. Dis ‘n lewegewende vreugde wat ek nog nooit gesien het nie.
Die Suster bring ons terug aarde toe. My ginekologie toets dui abnormale selle aan en die oorplanting kan nie voortgaan as daar ‘n moontlikheid van kanker is nie. Omdat dit vrou-tot-vrou is, is die risiko groot.
Daar kom ‘n verlatenheid oor ‘n mens as jy hoop proe en dit word jou ontneem. Dis moeilik om te swaai tussen ekstase en vrees.
Maar ons hou vas aan ons geloof. Ons word omring deur soveel mense wat vir ons bid
Ek is geopereer 17 Mei en sterk goed aan.
Ten spyte van die klein terugslag het ek my internis en nefroloog gesien en is gesond verklaar.
Daar is só baie waaroor ek nog kan skryf, sê ek vir hom. Nou doen dit dan, sê hy. Vir jouself, of iemand daar buite wat jou storie moet hoor.
Ek ry huis-toe. Jy hou nie van aandag nie, sê my kop… maar jy hou van gee, sê my hart.
“if you remember anything of me, after i leave this world, remember that i loved even when it was foolish; that i cared, even if it was unwanted; when my body is gone, remember my heart”
Leave a Reply to lizaborstlap Cancel reply