‘n seisoen van vergifnis

ek skryf hierdie blog vir jou…

hierdie was my boodskap aan jou…

As ek my oë toemaak dan voel dit vir my of ek alleen iewers in die veld loop met honderde gedagtes in my kop maar daar is nog steeds ‘n kortsluiting tussen my ‘weet’ en die woorde wat by my mond moet uitkom. Ek kry nagmerries en onthou goed wat ek noukeurig weggebêre het. Toe ek Charlotte se boodskap lees wat sy aan jou gestuur het toe besef ek dat my kinders deur die slagpale is. Ek kyk letterlik en sien diere, sonder velle, bebloed hang.

As ek aan die afgelope 25 jaar dink dan sien ek ‘n slagveld. Ek weet nie hoe ek hier gekom het waar ek nou is nie. Ek kry nie vrede in my hart om net te maak asof alles reg is nie. Maar ek weet met my hele hart dat ek jou en die familie en al die mense wat my veroordeel het sonder om een woord met my te praat met my hele hart vergewe het.

Vergifnis vee nie die gevolge uit wat ek nou nog steeds dra nie. Die enigste konsep wat met my hart resoneer is herstellende geregtigheid.  Ek het gelees wat iemand geskryf het oor Ubuntu en op hierdie verduideliking afgekom: “Ubuntu is verbind aan die idee van vergifnis. In dié verband sê hy dat om te vergewe nie net altruïsties is nie, maar dat dit die beste vorm van selfbelang is, omdat vergifnis mense volharding leer wat hulle in staat stel om te oorleef en steeds menslik te bly ten spyte van alle pogings om hulle te ontmenslik.”

Ek dink die woord ontmenslik is presies die woord waarvoor ek al jare wag om te probeer verduidelik wat met my gebeur het. God het my gered en gelei en Hy het aan my lewe gegee ten spyte van die feit dat ek ontmenslik was. Ek dink nog en ek formuleer nog en ek glo die Heilige Gees sal my lei om te kan sê: “Dit is wat ek nodig het om te hoor sodat daar herstellende geregtigheid vir my kan plaasvind”. Ek weet nog nie presies wat om te sê nie maar dit begin al hoe meer voel asof ek nodig het om erkenning te kry vir die oorloë, geweld en lyding wat ek moes trotseer sodat die ontmensliking my nie heeltemal vernietig het nie.

en hierdie is ‘n gedeelte van jou antwoord aan my…

“… ek kan sien dat jou ontmensliking soos jy dit noem, jou nie toekom nie en dat jy ‘n pad gestap het wat net jy en die Here ken.  ek weet nie presies wat herstellende geregtigheid beteken nie…”

ek gaan dit hier probeer verduidelik.

Herstellende geregtigheid (restorative justice) is eintlik maar ‘n regsterm wat gebruik word wanneer misdadigers gerehabiliteer moet word. Misdadigers moet verstaan dat hul optrede gevolge het en dat hulle dus ‘n verantwoordelikheid het om dinge reg te stel.

Die term fassineer my vir heel ander redes. Dit gaan oor die feit dat die oortreder moet hoor wat die omvang van die skade was wat sy dade veroorsaak het. ‘n Voorbeeld sal wees dat ‘n dronk bestuurder wat die dood van ‘n voetganger veroorsaak het nie bloot tronkstraf kry om vir sy oortreding te betaal nie; herstellende geregtigheid sal vra dat die oortreder na die oorledene se familie moet gaan om aan te hoor hoe die verlies hulle affekteer. Die oorledene sal as ‘n persoon gesien word wat waarde gehad het; ‘n mens wat iemand liefgehad het; ‘n broodwinner en uitnemende werknemer. Nie ‘n blote nommer op ‘n leêr in ‘n hof nie.

Dit is hoekom die woord ontmensliking (dehumanizing) my aangegryp het. Want vir die eerste keer kon ek op ‘n kognitiewe vlak verstaan hoekom my hart so ‘n leegte vashou. Dít wat die afgelope 25 jaar met my gebeur het is ‘n realiteit. Ek het oorleef, die Here was deurentyd by my en Hy het wonderbaarlik voorsien. Ek kon my kinders ten spyte van alles versorg.

maar

Ek sal nooit in my lewe kan ophou werk nie en ek was vier keer met vakansie die afgelope twintig jaar. Ek sal nooit die verlore tyd kan terugkoop nie en ek sal nooit die volle omvang van my alleenheid in woorde kan uitdruk nie.

Noem hierdie maar die seisoen van vergifnis.

Ek weet die Here het ‘n doel daarmee dat soveel vervreemde mense oor die afgelope paar weke met my kontak gemaak het.

Hy weet wat ek nie weet nie en dis goed so.

Ek gaan terug na daardie aanhaling wat die legkaart laat pas het:

“Ubuntu is verbind aan die idee van vergifnis. In dié verband sê hy dat om te vergewe nie net altruïsties is nie, maar dat dit die beste vorm van selfbelang is, omdat vergifnis mense volharding leer wat hulle in staat stel om te oorleef en steeds menslik te bly ten spyte van alle pogings om hulle te ontmenslik.”  ̴  G.H. van Rooyen  ̴

Ek was selfsugtig toe ek jare gelede vergewe het, want dit het my volharding geleer wat my in staat gestel het om te oorleef en om menslik te bly ten spyte van alle pogings wat aangewend was om my te ontmenslik.

Dalk het daar ‘n stuk genesing gekom net deur hierdie blog te skryf.

Vergifnis het so baie fasette en op ‘n intellektuele vlak het ek dit nog altyd verstaan. Geloof bring die dieper dimensie, begrip en dankbaarheid. God, maar wat van die geweldige verlies? Kan my intellek en my geloof ‘n kombers gooi bo-oor die verlies? Die gevolge van ander mense se besluite en dade? Wat van die diep groewe, uitgroeisels en vertakkings van gevolge in my lewe?

(my joernaal 16 April 2008)

wat doen mens op die emosionele vlak
dáár waar harte
en lewens
en kinders
gebreek
word?

wat doen mens
as iemand verrineweerd
rondgepluk word deur die lewe
sodat daardie mens
nie meer
mens
voel
nie?
(my joernaal 17 November 2010)

soms, as mens regtig gelukkig is
dan lees jy iets raak
wat sin maak
en so het dit ook vir my gekom
die begrip
die weet

ek het almal lankal reeds vergewe
maar genesing kom
wanneer die oortreder kruisbeen oorkant jou gaan sit
en luister
en luister
en luister

ek het ‘n storie

dinge het met my gebeur
op die moeilikste van moeilikste tye
was ek stoksiel alleen
met my kinders
met my God
(my joernaal 23 Januarie 2020)

dit het my skoonma 21 jaar gevat en nou dat ek iets sou wou sê

sien ek net verdriet in haar oë

dit het my eie ma 15 jaar gevat en nou dat ek iets sou wou sê

kan sy niks onthou nie

dit het jou en my 12 jaar gevat en nou dat ek iets sou wou sê

nou loop ons in twee spore en tussen ons is liefde

dit het vrou nommer sewe 5 jaar gevat en nou dat ek iets sou wou sê

nou huil sy haar eie trane

(my joernaal 22 Junie 2020)

 

 

Aanhaling G.H. van Rooyen
http://hdl.handle.net/2263/23180

12 responses to “‘n seisoen van vergifnis”

  1. Watter aangrypende, pragtige inskrywing. Herfs – die seisoen van verlies en beleënheid… Dankie hiervoor.

    Liked by 1 person

  2. Una says:

    Liza, herstellende geregtigheid, ek verstaan wat jy hier neerpen ook al te goed. Jou fotos veral, saam met jou ‘uitstort,’ vat aan my.

    Liked by 1 person

  3. Dankie vir die woorde wat ek jare lankal soek wat jy sagkens vir my kom gee het. Ontmens….ek ken dit goed. Ek is bly jy word weer heel mens. Laat dit met jou baie goed gaanxx

    Liked by 1 person

  4. ekmyselff says:

    Hierdie het my hart geroer… dankie vir die deel

    Liked by 1 person

  5. lizaborstlap says:

    Ek is bly en hartseer oor die hoeveelheid mense wat hiermee kan vereenselwig.

    Liked by 1 person

  6. woordnoot says:

    Ontmens…wat ‘n ongelooflike raak beskrywing. Dis dan wat ek al vir die afgelope 15 jaar voel. Ontmens, word gemanage soos iemand dit laasweek so raak beskryf het. En ek het ‘n gevoel dat ek dalk nooit die herstellende geregtigheid sal beleef nie…

    Liked by 2 people

    • lizaborstlap says:

      Ek besef dat mens dit nie noodwendig sal beleef nie en dit is iets wat ek ook moet deurwerk, daarom is die bereidwilligheid van hierdie een persoon vir my so belangrik.
      Ek weet wel dat almal eendag voor die Regter sal staan en Hy sal heelmaak en afhandel. Dáárin het ek vir jare lank my troos gevind. Dáárin lê troos vir dit waarop jy nou uitmis.
      Ek stuur warmte op hierdie koue dag!

      Liked by 1 person

  7. dromer777 says:

    Wow nou weet ek wat my eerste huwelik jare terug aan my en my kinders probeer doen het…ontmens😓. Dankie Heer ons is in ‘n nuwe seisoen.

    Liked by 2 people

  8. lizaborstlap says:

    Dis lewe! – ek is so bly vir jou nuwe seisoen.

    Liked by 2 people

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: