‘n oggend van stilte

img_4561

Ek het lankal bevestig dat ek sal kom.  Dis goed so, want ek staan op en ek is nie regtig lus nie.  Maar dis ‘n commitment en ek besluit om te gaan.  Net voordat ek by die huis uitloop gryp ek my Afrikaanse Bybel. Dit voel stowwerig, ek lees deesdae meesal Engelse Bybels.

Sy ontvang my hartlik en ek stap by die vertrek in.  Ons groepie is klein maar ek voel dadelik op my gemak.   Sy help ons om gemaklik te sit en ons doen ‘n paar asemhalings oefeninge.  Bene langs mekaar, hande gemaklik op my skoot. Ek kyk na haar mooi uitstalling voor my en haal diep asem.

img_4557

Sy speel musiek van die Mormoonse Tabernakel Koor en slaan saggies op haar ghong om ‘n tydperk  van stilte in te wy.

My gedagtes bokspring en ek kry my kop nie stil nie.  Ek neem wie weet hoe lank om net te probeer fokus.  Dis nie net my eie storie en stres nie, dis ook baie stories van ander mense. Ek is lus om moed op te gee. 

Ek voel hoe my hart onrustig klop, asof ek ‘n marathon voltooi het.  Ek gaan nie vandag by die Here uitkom nie, dink ek.  Ek is regtig vasgevang in die werklikheid. Die musiek hou op, sy slaan die ghong en ons maak ons oë oop.

img_4559

Almal kies koers na ‘n stil plek waar hulle kan gaan dink.  Ek klim van die stoel af, sak op die mat neer en lees die riglyne.

“Dis okay as jou gedagtes tekere gaan, laat hulle hulself uitwoed… kom net elke keer terug na die Here toe.  Fokus op ‘n woord.”

Ek slaan my Bybel oop en kom af op ‘n stukkie wat ek twee keer vantevore gemerk het. Daar is ‘n hakie om en die woorde ‘Hoe voel God oor my?’ geskryf in ‘n pers pen.  Met ‘n blou pen is daar ‘n datum 12/04/2018

img_4564

Ek lees dit en onthou glad nie hoekom ek dit vantevore gemerk het nie. Ek sien die woord ‘genadig’ en dit val my op dat ons maar wind is wat verbywaai en nie terugkom nie…

img_4558

Genade – dis my woord.  So ek probeer weer.  Ek los my kop dat hy spring, maak hom geduldig bymekaar, amper soos ‘n skaaphond sy skape.

Genade – ek doen dit ‘n hele paar keer en dit begin beter gaan.  Ek kom nog steeds nie by die plek van stilte waar ek Hom hoor nie, maar ek kry dit reg om my gedagtes bymekaar te trek.

Ek voel pyn in my kop en skouers.

Genade – daar kom ‘n hele paar vrese en vrae by my op. Ek het geen antwoorde nie. My skouers bondel in my nek.

Genade – ek voel hoe alles in my skouers lostrek en hoe die pyn afbeweeg teen my ruggraat. Dit maak nes in my lae rug.  Ek is so gefokus op die intense fisiese pyn dat ek skaars besef my kop is stil.

img_4560

Genade, vra ek. Genade vir my kop. Genade vir die pyn in my rug. Genade vir my lewe.  Ek maak my oë oop toe iemand in die vertrek inloop. Ek staan op – strek my lyf uit.  Ek kyk na die horlosie en sien dat daar twee ure verloop het.

Twee ure van stryd.  Uitroep om genade. My kop voel lig, my gedagtes het ruimte gemaak.  Daar is ‘n rustigheid in my hart en my skouers en rug beweeg in harmonie.

img_4542

Genade…

Ek het nie veel reggekry vandag nie.  Ek het my bes probeer, alles gedoen wat ek kon.  Ek het stil geraak voor Hom, plek gemaak.

Genade

Miskien sal ek nou stil genoeg wees.  Oop genoeg om Hom weer te hoor. Dit is ‘n begin.

Sy speel weer mooi musiek, iets wat ek nie ken nie. Slaan die ghong om die oggend af te sluit.  Dit maak nie saak wat jy ervaar het nie, sê sy. Solank jy net weet Hy was die hele tyd by jou.

Net soos daar ‘n Engel by Hom was tydens Sy lydenstyd op Golgota.

img_4544

Genade dink ek.

Maar Hy is genadig, Hy vergewe sonde, Hy wis Sy volk nie uit nie. Dikwels het Hy Sy toorn bedwing en sy gramskap nie laat losbreek nie. Hy het daaraan gedink dat hulle maar mense is, wind wat verbywaai en nie weer terugkom nie. (Psalm 78:38-39)

6 responses to “‘n oggend van stilte”

  1. Genade. Hoe mooi. Dankie vir die deel.

    Liked by 1 person

  2. Genade, onuitspreeklik groot. Dankie hiervoor.

    Liked by 1 person

  3. Ek voel so gereeld nes jy hier neerskryf, dat my kop te besig bly en ek nie op my God gefokus kry nie. Genade. Dis die woord, die een wat ek ook moet hoor en gryp en vashou.

    Liked by 1 person

  4. Ek waardeer jou eerlike beskrywing. Die reis na die kern is nooit maklik nie, maar wel só genesend. Dankie vir wat jy met ons gedeel het! 💖

    Liked by 1 person

  5. Ek kort so sessie….dringend…..

    Liked by 1 person

Leave a comment