Ek ken haar al lank. Baie lank. Sy is mooi en stylvol. Sy vra my al seker vir agt jaar om te kom sit dat sy ‘n kleuranalise op my doen.
Ek is hardkoppig en ek het my eie styl. Ek worry glad nie oor kleure nie, solank iets lekker voel aan my lyf is ek gelukkig. As my klere laag op laag wyd en los rondom my draai dan sing my hart.
So kom dit dat ons vroeg in Augustus ons gereelde kuiertjie het en sy vasbeslote ‘n datum vasmaak. Op 26 Augustus 2022 gaan ek sit en beheer oorgee aan my mooie vriendin.
Die aand voor die tyd vra sy vir my vir drie fotos van myself. Voorskool, laerskool en hoërskool.



Haar response op my fotos is “Great! Thanks blondie!” Ek kry amper ‘n paniek aanval en wonder waar ek op kort kennisgewing ‘n urbanol in die hande kan kry vir die k-l-e-u-r-a-n-a-l-i-s-e, ek meen, moet asseblief nie vir my sê ek is blond nie. As ek nie so lief was vir my vriendin nie het ek daar en dan die afspraak gekanselleer.

Die oggend van 26 Augustus neem ek hierdie selfie. Dit is regtig ‘n selfie – sodat ek kan onthou wie ek is en waarvan ek hou. Ek koop vir haar ‘n mooi protea as ‘n pleitdooi – “moenie my verander nie asseblief!“
Sy neem my na haar mooi vertrek en orals is stapels lap gepak. Op die tafel staan die water en ‘n klein geskenkie.

Sy stel my dadelik op my gemak, maak geselsies en op daardie oomblik besluit ek om beheer te laat gaan en die oggend te geniet. Die opdrag was dat ek verkieslik grimeerloos moet kom. Sy neem ‘n skalkse swart en wit foto van my bleek gesig en vra my om uit die venster te kyk vir ‘n naby foto van my oog.


Ek sit gemaklik terwyl sy een na die ander lap om my gesig drapeer. Ek kan sien hoe sommige kleure my oud en afgerem laat lyk terwyl ander die plooie en voue verberg. Die foto van my oog is my gunsteling. Kyk, sê sy, dit lyk of die sonstrale rondom jou pupil skyn.
Dit neem nie lank vir haar om my te klassifiseer as ‘n sagte herfs nie.






Sy wys vir my dat ek silwer en goue juweliersware kan dra en ook die kleur van my toekomstige lipstiffies.


Ons gesels oor haarkleur, onderlaag en grimering. Ook oor die dag as ek sou besluit om heeltemal grys te word en subtiel oor te skuif na sagte somer. Die ligte kleure sal kompenseer vir die gryskoppie!

Ek sien uit om die regte kleure te begin dra. Op pad uit gee sy vir my die geskenkie in die blou sakkie.
“Ek weet jy is iemand wat hou van geure, dat jy wierook brand en daarom het ek vir jou hierdie parfuum monstertjies gekry – dit is gevul met speserye en jasmyn.”
Ek vryf met my vingers aan die mint blaartjies op die geskenk en die lavender langs die water. Die geure voer my weg na ‘n plek waar ek veilig voel.

Twee ure later toe ek wegry kan ek nie help om goed te voel oor myself nie. Ek weet dat sy my baie geleer het oor hue, saturation en brightness. Sy weet ongetwyfeld wat sy doen. Ek weet ook dat sy haar hart in my hande gestort het. Sy het my bedien as ‘n vriendin maar ook as ‘n vrou.
Ek is regtig spyt ek het nie agt jaar gelede gekom nie!
Elna van der Walt – Style Academy – 082 415 2549
Leave a Reply