blydskap

 

Processed with Rookie Cam

ek weet nie hoe
gratitude
gebore word nie
dalk is dit omdat jy jou hande oopmaak
in hulle leegheid
dat jou hart
skalks uit desperaatheid
die horison begin
fynkam
tot jy iets soos ‘n spikkel
sien aankom
dan vou jou hart oop
om te ontvang
dít wat die lewe jou onvoorwaardelik bied
van daardie dag af
sien jy jou kind se glimlag
die sprankel in die oë
die stof op jou vensterbank
en perfekte katspoortjies in die wasbak
dis die dag wat jy gelyk leeg en propvol voel
dis die dag wat jou dun beursie op die kas bly lê
en jy dik stukke brood met vyekonfyt smeer
dis die dag wat jy jou deure oopgooi
en lag
want vrede
kos niks
liefde
kom verniet
jou kinders se stories plak jy soos ‘n scrapbook in jou hart
dis die dag wat jy weet dat jy weet
Hy het jou nie vergeet nie
en die eenvoudige goed
bring die oes in
die weggooi goed
maak jou huis bly
en sonder woorde
sit jy net
met allerhande opsies
en as jy sif
opsy stoot
en die kat krul op jou bed
dan
definieer jy dit
sommer so
omdat jy nie eintlik weet
wat om dit te noem nie

g-r-a-t-i-t-u-d-e

want jou skuur is vol
jou arms vol lief-kinders
en jou hart borrel
seepborrels
diep in die
lig
in

image

Leave a comment