Joernale

what you have experienced, no power on earth can take from you

Viktor E. Frankl

Daar wag ‘n baie opwindende nuwe hoofstuk in my lewe. Dit is ‘n storie vir ‘n ander dag. Ek is besig om my lewe in bokse te pak om ou drome vlerke te gee.

So kom ek op al my joernale af. Dit is vir my so kosbaar, dat ek dit bymekaar gemaak het en in ‘n klein boksie apart ingepak het. Natuurlik begin ek toe analiseer hoekom ek skielik so ‘n ontsettende sentiment het aan hierdie hopie boeke.

Die buiteblaaie vertel hul eie storie. Daar was ‘n tyd waar ek net geloof gehad het, toe gebed, toe hoop.

Daarna breek die tyd aan waar ek gesoek het na self-waarde, genade of soos ek dit beter onderskei grace en mercy.

Dis waar ek besef het dat elke ondervinding betekenis gehad het en stadig maar seker die mens gevorm het wat ek vandag is. Daardie hartseer, hoop, ontevredenheid, vrae aan God was uniek aan my reis. Niemand kan dit ooit by my wegneem nie.

Alles vorm deel van my storie, my herhinneringe en my groei.

Een van my vriendinne het ‘n kosbare handgemaakte joernaal vir my gemaak. Die lewe het vir haar te veel geraak en sy het haar eie lewe geneem. Ek het opgehou skryf in hierdie joernaal die dag van haar dood. Wat kan ek byvoeg of wegneem? Die boek sal my altyd aan haar herhinner.

Hierdie boeke het my vandag weereens laat besef dat die mens ‘n wonderlike vermoë het om veerkragtig (resilient) te wees, dat God ons die krag gee om sterk te staan deur die moeilikste tye in ons lewens. Dit is moontlik, maar moeilik om die human spirit te breek.

Ek weet God, die Heilige Gees en die kosbare Bloed van Christus het my gered. Dit het genesing gebring. Deesdae is my joernale vroliker en vol danbaarheid.

Ek wil nooit die reis vergeet nie. In een van hierdie joernale is ‘n lys waarvoor ek al 25 jaar bid. Ek sal dit soek en deel, sodat ek kan getuig van God se genade. Maar ek weet dat ek verstom staan want Hy het my mal gebede gehoor,

Vir die koorleier. Van Dawid. ‘n Psalm. Ek het gesmag na die hulp van die Here. Hy het na my toe afgebuig en my hulpgeroep gehoor. Hy het my uitgetrek uit die put van die dood, uit die slymerige modder, my op ‘n rots laat staan en my weer op vaste grond laat loop.

PSALMS 40:1-17 AFR83

Ek het hierdie joernaal van 2000 sommer uit nuuskierigheid oopgeslaan en kyk die plesier wat dit my vandag gee!

Lank voordat ek geweet het van junk journaling het ek een gemaak sommer so in my dagbeplanner.

As ek nie my gebede neergeskryf het nie sou ek nooit geweet het hoeveel daarvan God verhoor het nie.

10 responses to “Joernale”

  1. Jy praat so na my hart. Ek het ook aanhoudend neergeskryf wat om my aangaan en hoe dit voel. Sommer in goedkoop notaboekies. ‘n Datum en al is dit net ‘n sin is vandag vir my ‘n juwelekissie met die mooiste diamant en edelstene. Dis ook soos jy sê in elke boekie/joernaal het God se lyn hand in my hand saam geloop.

    Like

  2. Lekker skryf scrapydo2☘️

    Like

  3. So waardevol ne? My boekies maak my hartseer en ek hou nie daarvan om in hul rond te blaai…

    Liked by 1 person

    1. Ek verstaan al te goed. Die regte dag sal kom, dan sal jy stil glimlag en onthou hoe braaf jy was/is. Baie liefde vir jou🥹🥹

      Like

  4. Ek is so ietwat jaloers, Liza. Jy het al so ver gekom, ek self wil nog glad nie na die verlede blaaie kyk nie. Die nou en wat voorlê omarm ek met als in my, maar die verby los ek net daar. Ai tog.😉🤗

    Liked by 1 person

    1. Ja, maar jou nou en toekoms is geluksalig ( ek praat nie van die ander hobbels nie, JOU pad) en ek geniet dit saam met jou.
      Dis ook ‘n kuns om in die nou te leef.
      Ek het ver gekom, ek sit bietjie en lees… liefde en liefde vir jou Una 🌷

      Liked by 1 person

      1. Dankie liefste Liza, ek love die feit dat ek ook deel kan wees van jou wêreld.

        Like

  5. Ek het ook sulke boeke gehad, en ek het almal verbrand toe ek ingepak het om te trek. Ek het net 1 oorgehou…die journey met die pienkstrikkie siekte. My lewe het so verander dat ek ook nie eens meer skryf woorde het nie. Maar ek dink daai hopie boeke is n skatkis vol genade.💕

    Liked by 1 person

    1. Ek kan dit verstaan, daar is ook ‘n tyd om te brand en agter te los.
      Ek is bly jy het die pienk strikkie boek gehou ~ ek dink nie daar is voldoende woorde vir daardie reis nie. Liefde.

      Liked by 1 person

  6. Dit is aangrypend – soos maar altyd as jy skryf.

    Like

Leave a comment