11 April 2017
ek leer baie oor myself met hierdie gelopery
en die mense wat nou en dan langs my loop
óp voor my
om die pad aan te dui
te encourage
uit te daag
en dié
wat agterna loop
om seer te verwerk
en soms te praat
maar as ek alleen loop
dan leer ék
ek gaan nie die camino loop
om myself te vind nie
of om iets te verwerk nie
ek gaan nie met bagasie nie
ek kom met my hande oop
hunkerend om te ontvang
wat die lewe my wil bied
ek het vandag alleen geloop
en iets geleer
ek sukkel nie met die opdraendes nie
ek sukkel nie met die alleenheid nie
ek sukkel nie met kronkelpaadjies en blare-dakke nie
ek sukkel met die lang gras
wat bleek
en onheilspellend
my toevou
in ‘n onbekendheid
ek ken my limiete
emosioneel
finansieel
geestelik
maar ek het geen idee
waar my fisiese perke lê nie
mense vra skielik vrae
en ek wonder self
maar ek kan nie onthou
wat die dag en datum was
wat my gedruk het om te besluit nie
en om eerlik te wees
was die camino ‘n droom
wat effens onbereikbaar vêr gaan lê het
en ek besef dat ek nie regtig geglo het
dat ek dit ooit werklik
sou kon doen nie
en toe ek vyftig word
het ek myself speels belowe
en gemik vir my vyf-en-vyftigste verjaarsdag
en nou en dan
as ek sukkel om my moeë bene op te lig
dan onthou ek
en my huppel kom weer terug
Daar kom ‘n dag wat ek sal sê…ja, ek het dit gedoen!
Leave a Reply