13 Maart 2018
Gerhard het my nie alles vertel van Beijing lughawe nie. Ek dink dat as ek geweet het wat op my wag sou ek ‘n ligte kalmeermiddel geneem het.
Ek is só lekker ontspanne, ek het die heelpad van Johannesburg tot Beijing gelees aan Elders van Erns Grundling wat sy storie oor die Camino vertel.
Mens slaap nie in die dag nie. Nee wag, ék slaap nie in die dag nie. Veral nie as daar 1025 skoenlappers in jou maag rondfladder van opwinding nie.
En toe land ek op Beijing en ek moet my connecting flight haal tot in Guangzhou.
immigrasie
en ek moet my tas vind
maar eers moet ek die trein haal
alles is in chinees en die dik ronde engelse uitspraak
maak alles vir my onverstaanbaar
ek volg die trop
maar mense loop inmekaar
teenmekaar
deurmekaar
ek vra
kry ‘n vriendelike glimlag
en chinees
en you go…go!
op boontoe
loop op en af
ek kry geen teken van my vlug~nommer by enige bagasie punt nie
ek vra weer
kry uiteindelik my tas
loop af ondertoe
alles is chinees
ek vra waarheen
you go there!
net toe ek oor die rooi lyn trap
weergalm die sekuriteit oor ‘n luidspreker
you woman…you wait!
ek wys na myself…me?
yes you!
you go check~in!
weer op boontoe
loop op en af
gee my tas in
loop weer een verdieping af
almal praat chinees
ek vra waarheen
you just go!
dis eers toe ek by hek C31 kom
dat ek sien die vlug gaan glad nie guangzhou toe nie
ek staan en kyk na die passasiers
dis toe daar wat ‘n jong chinese man sy laptop neersit
voor my inval
en my drafstap na die ander kant van die lughawe tot by hek C51
ek is só dankbaar dat ek in afrikaans vir hom dankie sê
baie, baie dankie!
toe gee hy my ‘n breë glimlag
steek sy hand uit en gee my vingers ‘n vriendelike drukkie
hy los my reg voor die hek
en ek is op pad na
guangzhou
Daar is niks lekkerder as om my kind se gesig op die lughawe te eien nie. Ons maak los geselsies op die metro en loop rustig tot by hulle huis.
Whitney maak die deur self oop en laat my welkom voel in die mooie gastekamer.
Ons loop in die onmiddelike omgewing en ek probeer myself oriënteer. Ek is spyt dat ek nie my fitbit vandag gedra het nie. Ek het kilometers afgelê.
My oë begin krapperig voel van min slaap.
Ek kyk by my venster uit na die asemrowende uitsig.
My gedagtes begin onwillekeurig los te wikkel. Ek het niks gedoen om hierdie blessing te verdien nie.
En toe dink ek aan my lewe, hoe stadig die wiel vir my gedraai het.
Toe kom lê daar vrede in my hart. So met die wete dat mens se lewe soms die omtrek van ‘n ferris wheel het.
Ek is nou ongeveer 32 ure aan die gang en my lyf begin protesteer.
Môre dra ek my kamera en my fitbit!
Leave a Reply