die stil man (5 jaar terug) dit is my stapmaat en ons oefen vir die Camino as ons ses-uur op 'n Saterdag-oggend begin stap dan loop hy voor en vinnig sy vuiste gebal van al die spanning genade, sê almal hierdie man praat nie 'n woord nie, hoe hou jy dit? dan sê ek nee, mens moet hom kans gee so vier kilometer in, dan sien ek sy hande val oop so ses kilometer in, dan raak sy pas draaglik so tien kilometer in, dan vertel hy my allerhande stories as ons stop om asem te skep en die kosblik oopmaak dan gaan lê hy in die gras en lag en sy oë weerspieël die blou lug dis hy wat my geleer het om die muntstukke op te tel as ons so stap dis oral op teerpaaie, op grondpaaie en op voetpaaie dit was eers so twintig kilometer voor Santiago in Spanje waar ek op 'n dag vasgesteek het nou loop jy maar alleen, ek kry jou in Santiago, het ek gesê want ons het die vyftien-dae roete in twaalf-dae klaargeloop en daai dag het ek finaal geweet hierdie is nie my ritme nie mens kan nie iemand wat hardloop rem nie en ek het geweet dit maak nie saak dat sy hande oopval as ons stap nie voor ons by die kar kom is sy hande klaar weer in spanning opgebol maar ek het hom nie vergeet nie en ek het 'n rooi blik vol opgetelde muntstukke wat my nou by my eintlike storie bring

14 Januarie 2022 ons vier my verjaarsdag ons kom nie by die koek en tee uit nie want ons praat te veel ons is al vriende vir sewe-en-veertig jaar ons praat oor die lewe sy vertel my van haar man se preek dit help nie meer om van die mossies op die een sent stuk te praat nie die een sent stukke is baie, baie skaars toe vat hy die tien sent die een met die lelies op en toe vertel sy my haar storie dat sy altyd muntstukke optel en sy praat oor haar besigheid en toe dit met haar moeilik gaan vat haar vriendin vyf van haar tiensent stukke en plant dit in haar potplant profeties en in geloof soos die vyf broodjies jy weet... sodat haar inkomste en haar besigheid kan groei en daarna kyk sy elke dag van haar lewe uit vir daardie muntstukke want dit is 'n teken en dit bou haar geloof toe gaan ek huis toe en ek keer die rooi blik uit en ek soek elke tien sent stuk en sit dit op 'n hoop want ek wil ook 'n paar profeties plant en my geloof bou en elke dag van my lewe onthou dat HY in beheer is

Daarom sê ek vir julle: Hou op om bekommerd te wees oor julle lewens, oor wat julle sal eet of oor wat julle sal drink, of oor julle liggame, oor wat julle sal aantrek. Beteken die lewe nie meer as kos en die liggaam meer as klere nie? Hou die voëls van die hemel goed dop. Hulle saai nie saad nie en hulle oes nie en hulle maak nie in voorraadskure bymekaar nie, maar tog sorg julle hemelse Vader dat hulle kos het. Is julle nie meer werd as hulle nie? Wie van julle kan een el by sy lewe voeg deur hom te bekommer? En hoekom is julle bekommerd oor klere? Leer ’n les by die lelies van die veld, hoe hulle groei. Hulle sloof hulle nie af nie, en hulle spin ook nie, maar ek sê vir julle dat nie eers Salomo met al sy prag en rykdom soos een van hulle geklee was nie. As God dan die plantegroei van die veld so klee, wat vandag hier is en môre in die oond gegooi word, sal hy julle nie veel eerder klee nie? Waar is julle geloof? Mattheus 6:25-30

soos altyd is daar maar 'n les ek is so bly ek het saam met die stil man geloop en dat hy my geleer het om muntstukke op te tel want hier, vyf jaar later kry dit betekenis
13 responses to “die lelies van die veld”
Lisa! Dat ek nou 2h00 wakker is en worstel en op hierdid af kom…..ek glo dis so bestem. Ek kry hoendervleis oor die tydsberekening. Ses ure terug het ek gevra…praat met my asb! Wys my! Nou wakker geword en iets gedoen wat ek nooit doen. WP oopgemaak. En hierdie kosbare stuk gelees. Baie dankie.
LikeLiked by 1 person
Liefste Woordnoot, ek is bly dit het iets beteken. Soek joune, plant hulle en ek bid vir jou ook vir oorvloedige seën. En vrede. En dat jy vanaand goed sal slaap! ☘☘☘
LikeLike
Dis nou kosbaar.
LikeLiked by 1 person
Dankie Woestynkind🌼🌼🌼
LikeLike
Dankie vir jou skrywe en dat jy dit kom plaas het, Liza! Ek vat hierdie ook vir my, want my en manlief se nuwe rigting kan net gebou word op Mattheus 6.
LikeLiked by 1 person
Verseker Una, jy kan gaan plant daar in Mosambiek!
LikeLike
Ek gaan verseker!😇
LikeLiked by 1 person
[…] Liza skryf vanoggend ń kosbare stuk en my hart raak sommer weer week toe sy Mattheus 6 aanhaal. Vader sê vir ons oor en oor in Sy Woord om op Hom te vertrou, vir alles. Tog, as ek eerlik is, ek sukkel gereeld. […]
LikeLiked by 1 person
Dis altyd ‘n vreugde om hier by jou te lees.
LikeLiked by 1 person
Dankie Frannie en ditto!
LikeLiked by 1 person
wow baie dankie hiervoor!
LikeLiked by 1 person
Vertel my as jy geplant het – en meer nog, as dit groei!
LikeLiked by 1 person
ek sal 🙂
LikeLiked by 1 person