as sy onthou

dis kort na nege in die oggend toe ek daar inloop. sy sit saam met drie ou omies in die sitkamer en hulle oë is toe.

ek weet nie of hulle bid en of hulle net verdiep is in hul gedagtes nie.

ek gaan sit stil langs haar en sy maak haar oë oop. potblou sagte oë kyk na my. sy herken my dadelik, noem my op my naam.

sy stel my aan almal voor, spog dat ek so mooi klavier kan speel en sing.

sy is liefdevol vandag, vra my ‘n paar vrae uit die diepe verlede. sy vra my waar my kinders is.

ek wys vir haar die nuutste video van Isabel wat “duimpie, duimpie se maatjie, lungeraaaaath, fielefooi en piepie in die kooi” opsê met haar pa se hulp. sy vra my seker vyf keer om dit weer en weer te kyk. wie se ou dogtertjie is dit vra sy, is dit regtig my agter kleinkind?

die suster sê dit gaan goed met haar maar sy hou daarvan om uitgelos te word. dis okay sê ek. jy is reg, sy hou daarvan om uitgelos te word.

toe ek haar aanmoedig om deel te neem aan die groepaktiwiteit toe sê sy nee want niemand hou van haar nie. hulle bring haar inkleurprentjie en sy kleur een van die bokkies in met ‘n sagte pienk.

ek het vir haar ‘n paar daisies gevat en met ‘n strik vasgebind. sy sê sy is bly ons ken haar want sy gaan die daisies in haar Bybel pars en die strikkie iewers vasmaak. toe sê ek vir haar ons sal haar nooit vergeet nie en sy moet mooi geduldig wees met die mense hulle probeer hul bes.

toe sê sy dat sy moeg is en eintlik wil doodgaan. toe sê ek dis reg so. ons sal bid en vir die Here vra dat sy haar laaste werk doen want sy is moeg en sy wil doodgaan. toe sê sy dankie my kind. toe sê ek vir haar sy was ‘n goeie ma en ons sal okay wees as sy doodgaan toe sê sy dat sy weet ons sal okay wees.

toe sê ek tot daardie dag kom moet ons almal blymoedig leef soos kinders van die Here. toe sê sy dis reg so my kind.

dit was die eerste keer in agt maande wat sy my op my naam genoem het. dat sy my herken het as haar oudste kind.

dit was ‘n goeie oomblik.

daardie oomblik wat sy kon onthou.

6 responses to “as sy onthou”

  1. Wat ‘n kosbare memory vir jou. Die feit dat sy jou herken het. Ai Lisa….dis kosbaar.

    Liked by 1 person

    1. Ja, sy het die heeltyd na my verwys as “die ander een” of “daai een” so hierdie was vir my spesiaal dat sy my op my naam genoem het.

      Like

      1. Dit bring trane in mens se ië

        Liked by 1 person

      2. Oë!!!

        Like

  2. Elna van der Walt Avatar
    Elna van der Walt

    Liewe Liza, dit raak mens diep… Dankie dat jy dié oomblik met ons deel.

    Liked by 1 person

Leave a comment