toeval

‘n Gebeurtenis of omstandigheid wat nie vooraf voorsien of bereken is nie

Hier naby my huis is ‘n antieke winkel en ek het nog nie tyd gemaak om te gaan snuffel nie. Elke keer wat ek daar verby ry dan neem ek my voor om in te gaan. Die opwinding van die vondse; om my vingers oor ou kaste te laat gly; ou breekgoed te bewonder, gee my eindelose plesier.

Hierdie naweek kuier my sussie hier by my en om volle betekenis aan my storie te gee, moet ek oor die belaglike detail praat. Sy word wakker met ‘n oog wat lyk of dit ‘n karkatjie vorm, sy is honger en soos gewoonlik het ek net post toasties in die huis. So besluit ons om in ons huisklere net hare te kam en vinnig na die naaste apteek en vrugte winkel te ry om bietjie orde te kry.

Die apteker bevestig dis ‘n karkatjie en toe sy wil betaal is die stelsel af. Kom terug oor so tien minute, sê hulle vir haar. Die vrugte winkel is oorkant die antieke winkel. Kom ons drink ‘n koffie, sê sy. Ons loop ‘n blok en die gesellige eetplek het nie koffie nie. Okay, kom ons gaan antieke winkel toe, sê ons amper gelyk.

Sy is dieper in die winkel, ek staan en vroetel aan ‘n kas wat my hart gesteel het voor in die winkel. Daar loop my liewe vriendin Chrissie by die winkel in. Ons omhels en begin gesels.

Ek het nou net aan jou gedink toe ek oor die straat waarin jy bly ry, sê sy. Ons praat so hard dat ons half uit die winkel begin loop. Ek is hier om my oorlede skoonma se laaste goedjies vir die winkel te bring, sê sy.
Almal het gekies wat hulle wou hê en hierdie bly oor. Kom, sê sy, kom kyk of jy iets wil hê… my sussie kom agter die geklets aan buite toe en ons snuffel in die boks. Nee, sê Chrissie na ‘n paar minute, vat die hele boks en maak daarmee wat jy wil.

Ons bied aan om daarvoor te betaal, nonsens, sê sy. Ek is so bly iemand wat ek ken kry dit, want die sentimentele waarde kan nie in geld gemeet word nie.

Op die ou einde skuif ons die boks van haar kattebak na myne en ons lag daardie diep lag waar woorde nie kan kom nie.

By die huis pak ek die boks uit en die mooiste silwerware en porselein bordjies staan op my kombuiskas.

Terwyl ek so opgewonde uitpak, luister ek na die stem boodskap wat Chrissie vir my gestuur het:

Liza weet jy, toe ek daar wegry toe bars ek uit van die lag want ek weet dis die Here. Ek ry nou al weet nie hoe lank met daai boks goed in my kar en ek moes Retail Park toe gaan en skielik kom dit op by my… you know daai skielik… ek weet dis die Here, die Heilige Gees… I’m going to pop into that antique shop want dit is halfpad huis toe.

En kyk nou net daar… want die Here wou gehad het jy moet daardie goedjies kry, so… ek is tog net so lief vir die Here want Hy… He is so personal and invade your day without invitation (asof Hy nou ‘n invitation nodig het). En Hy doen sulke praktiese goed want ek sê vir Greg dit het niks met doktrine te doen nie en dis nie spiritual nie, dis net plein alledaagse lewe, and He comes and He blesses me. First of all… dat ek dit vir iemand kon gee wat ek ken, nie vir ‘n vreemde mens nie en dis iets wat ek weet jy sal van hou.

Chrissie

So… as my sussie nie ‘n karkatjie gehad het nie, die stelsel nie af was nie, die restaurant koffie gehad het… dan het ek vir Chrissie misgeloop.

Baie mense sal sê dis toeval. Van my gelowige vriende sê Toe-Val-Lig. Vir my bring dit soveel vreugde en ek glo in wonderwerke. Ek glo dat Hy stelselmatig alles vir my teruggee wat ek deur my lewe verloor het. Die enigste verskil is dat Hy sewe keer meer teruggee as wat ek verloor het.

Heel onder in die boks is twee paar handskoene en vreugde!

One response to “toeval”

  1. En nou lees ek met n traan in my oog want ek het ook n ToeValLig oomblik gehad….ek vertel dalk nog daaroor. Ek sou daai boks darem ook waardeer het!!

    Like

Leave a comment