ek wonder
hoekom mens so bang is
om ouer te word
dis bevrydend
om eerlik te wees
dis makliker só
sonder pretensies
sonder skanse
sonder die wêreld se warboel
wat weerkaats
in ons oë

ons kinders was saam in die skool, tinktinkie, laerskool theresa park en affies.
die mooi vrou
met die mooi kinders
en die mooi huis
die kinders is nou groot, versplinter regoor die wêreld, en tussen toé en nóu lê daar tyd… twintig of dalk vyf-en-twintig jaar.
dit was eers so ‘n paar jaar terug wat ons begin skryf het vir mekaar, facebook messenger boodskappe, vir daardie aande wat mens nie kan slaap nie. om te praat oor daardie goed wat jy nie kan sê nie. heen-en-weer troos, wiegend tussen bekende onbekendes.
so het ons geleer by mekaar, miskien omdat ons tegelykertyd vêr en naby aan mekaar kon wees. tussen ons woorde lê hartseer, onseker en bang. tussen ons sinne lê lewens filosofie en wysheid om nie antwoorde te soek op die ‘hoekom’ nie.
tussen ons boodskappe lê ‘n nieroorplanting, corona en kanker. ‘n wéét en verstaan. vandag na baie jare sit ons oorkant mekaar en drink ‘n chai tee.
ons praat en praat en praat…
die mooi vrou
met die mooi kinders
en die mooi huis
dis eers toe ons groet dat ek ons kunswerke aanskou. daar skort absoluut niks met ons kreatiwiteit nie! sal ons ‘n foto neem, vra ek. ja sê sy… ek hou daarvan om memories te maak.


“i love people that have no idea how wonderful they are and just wander around making the world a better place”
Leave a Reply